Wynbou in Duitsland

Baie van Duitsland se wingerde is teen steil hange geleë wat verseker dat die druiwe 'n maksimum sonlig kry. Rivierwater soos hierdie Rynkronkel in die suidweste van die Rheingau oefen 'n matigende invloed op die klimaat uit en reflekteer daarnaas ook die sonlig soos 'n spieël

Duitsland behoort tot die belangrikste wynboulande, alhoewel dit met 'n totale oppervlakte van sowat 100 000 hektaar se wingerde by die kleiner wynprodusente gereken word. Die Duitse wynboubedryf met sy sowat 80 000 wynboere produseer jaarliks 9 miljoen hektoliter wyn vir die plaaslike en uitvoermarkte soos die Verenigde Koninkryk, die Verenigde State en Nederland.

Kenmerkend is die groot aantal wingerdsoorte wat 'n verskeidenheid wyne oplewer, waarvan 63 persent wit- en 37 persent rooiwyn. Riesling is die bekendste Duitse wyn – die edele witwyn word dikwels met die Duitse wynkultuur vereenselwig en beslaan 21 persent van die wingerdoppervlakte. Ander bekende druiwesoorte sluit Müller-Thurgau, Kerner (of Silvaner), Spätburgunder en Dornfelder (of Regent) in. Daar is altesaam meer as 140 druiwesoorte.

Die grootste en bekendste Duitse wynbougebiede is Rynhesse, Palts en Baden. Daarnaas word beduidende hoeveelhede wyn ook in streke soos Ahr, Franke, die Hessiese Bergstraat (Hessische Bergstraße), die Middelryn, Mosel-Saar-Ruwer, Nahe, Rheingau, Saale-Unstrut, Sakse en Württemberg verbou.

Die koel klimaat met sy gematigde temperature en groot hoeveelhede sonstraling lewer saam met die mineraliese grond oorwegend prikkelende, vrugtige witwyne met 'n vars suur op. Die wye spektrum rooiwyne, met Spätburgunder as belangrikste soort, strek van droog tot edelsoet.

Duitse wyne word in vier kategorieë geklassifiseer waarby ook die gewes, wynboustreek en ligging van wingerde aangedui word: Prädikatswein, ("eersterangse gehaltewyn"), Qualitätswein mit Anbaugebiet (Q.b.A., "gehaltewyn uit 'n bepaalde wynboustreek"), Landwein ("landwyn") en Tafelwein ("tafelwyn"). Prädikatsweine word verder verdeel in Kabinett, Spätlese, Auslese, Beerenauslese, Trockenbeerenauslese en Eiswein ("yswyn").


© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search